12 dan moet julle elke oudste seun wat gebore word in ’n familie, vir die Here gee. Julle moet ook die eerste manlike kleintjie van elke dier vir die Here gee. Hulle behoort almal aan die Here.
13 Maar ’n donkie se eerste hings-vul moet julle loskoop. Julle moet ’n skaap of ’n bok gee in die plek van ’n donkie. As julle nie die donkie-vul loskoop nie, dan moet julle sy nek breek. Julle moet ook julle oudste seuns loskoop, julle moet iets anders in hulle plek gee.
14 As julle kinders later vir julle vra wat dit beteken, dan moet julle vir hulle sê: ‘Die Here het ons met sy groot krag uit Egipte gered, daar waar ons slawe was.
15 Die farao was hardkoppig. Hy het gesê ons mag nie weggaan nie. Toe het die Here al die oudste seuns in Egipte doodgemaak, die oudstes van die mense en van die diere. Daarom offer ons die eerste bul-kalf en die eerste ram-lam vir die Here, en daarom gee ons iets anders in die plek van ons oudste seuns.
16 Dit moet soos ’n teken wees op julle hande en tussen julle oë, sodat julle kan onthou dat die Here ons met sy groot krag gehelp het om weg te gaan uit Egipte.’ ”
17-18 Toe die farao die Israeliete laat gaan het, het God hulle nie gelei op die pad deur die Filistyne se land nie. Dit was die kortste pad en die Israeliete kon goed oorlog maak. Maar God het gesê: “As die Israeliete moet oorlog maak, dan sal hulle miskien begin twyfel en hulle sal hulle planne verander. Dan sal hulle omdraai en teruggaan na Egipte.”Daarom het God hulle met ’n langer pad deur die woestyn laat gaan na die Riet-see.
19 Moses het Josef se lyk met hom saamgeneem, want voordat Josef gesterf het, het hy gesê die Israeliete moet belowe om dit te doen, en God moet die getuie wees. Josef het vir hulle gesê: “God sal julle vrymaak, dit is seker. Wanneer Hy dit doen, dan moet julle my lyk saamneem uit hierdie land.”