1 God het gesê:
2 “Ek is jou God die Here. Ek het jou uit Egipte gebring, uit die plek waar jy ’n slaaf was.
3 “Jy mag nie ander gode aanbid nie. Ek is die enigste God.
4-5 “Jy mag nie vir jou ’n beeld maak en voor hom buig en hom dien nie, nie ’n beeld wat lyk soos iets bo in die hemel of soos iets onder op die aarde of soos iets in die water onder die aarde nie. Ek is jou God die Here, jy moet net vir My dien. Ek straf die kinders as die pa sonde gedoen het. Ek straf ook sy kleinkinders en agterkleinkinders as hy My haat en ongehoorsaam is aan My.
6 Maar as iemand lief is vir My en as hy gehoorsaam is aan My, dan sal Ek goed wees vir hom en vir sy kinders, 1 000 geslagte lank.
7 “Jy mag die Naam van jou God die Here nie gebruik vir iets wat verkeerd is nie, want die Here sal elkeen straf wat sy Naam gebruik vir iets wat verkeerd is.