5 Toe Aäron dit sien, het hy ’n altaar voor die beeld gebou en gesê: “Môre vier ons ’n fees vir die Here.”
6 Hulle het vroeg die volgende oggend opgestaan en hulle het brand-offers en ete-offers na die altaar gebring. Die Israeliete het gaan sit om te eet en hulle het wyn gedrink. Daarna het hulle opgestaan en wild feesgevier.
7 Die Here het vir Moses gesê: “Gaan af van die berg en gaan na jou volk toe wat jy uit Egipte gebring het. Hulle het groot sonde gedoen.
8 Hulle het gou vergeet wat Ek vir hulle gesê het. Hulle het vir hulle ’n beeld van ’n bul-kalf gemaak en hulle het voor die beeld gebuig. Hulle het vir hom offers gebring en gesê: ‘Israeliete, hier is julle god, hy het julle uit Egipte gebring.’ ”
9 Die Here het vir Moses gesê: “Ek het na hierdie volk gekyk, en Ek het gesien hulle is baie hardkoppig.
10 Moenie probeer om My te keer nie. Ek is baie kwaad vir hulle en Ek wil hulle almal doodmaak. Dan sal Ek jou nageslag ’n groot volk maak.”
11 Moses het mooi gepraat met sy God die Here en Moses het Hom gesoebat om sy plan te verander. Hy het gesê: “Here, hoekom is U kwaad vir u volk? U het hulle uit Egipte gebring. U het hulle met u groot krag vrygemaak.