9 Die Here het vir Moses gesê: “Ek het na hierdie volk gekyk, en Ek het gesien hulle is baie hardkoppig.
10 Moenie probeer om My te keer nie. Ek is baie kwaad vir hulle en Ek wil hulle almal doodmaak. Dan sal Ek jou nageslag ’n groot volk maak.”
11 Moses het mooi gepraat met sy God die Here en Moses het Hom gesoebat om sy plan te verander. Hy het gesê: “Here, hoekom is U kwaad vir u volk? U het hulle uit Egipte gebring. U het hulle met u groot krag vrygemaak.
12 As U hulle nou doodmaak, dan sal die Egiptenaars sê: ‘Die Here het die Israeliete gered, maar Hy het ’n skelm plan gehad. Hy wou hulle doodmaak in die berge en Hy wou hulle almal heeltemal wegvee van die aarde af.’ Here, moenie kwaad wees vir u volk nie. Verander asseblief u planne en moenie hulle doodmaak nie.
13 U moet onthou wat U self belowe het vir u dienaars Abraham en Isak en Jakob. U het vir hulle gesê: ‘Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre in die lug. Ek sal hierdie hele land vir julle nageslag gee, en dit sal altyd aan hulle behoort.’ Here, U was self die getuie toe U dit vir hulle belowe het.”
14 Die Here het sy plan verander en Hy het besluit om nie sy volk te straf nie.
15 Moses het omgedraai en afgekom van die berg. In sy hande was die twee plat klippe waarop die tien gebooie was. Die Here het op altwee kante van die klippe geskryf, op die voorkant en op die agterkant.