1 Die Here het vir Moses gesê: “Gaan nou hier weg, jy en die volk wat jy uit Egipte gebring het. Gaan na die land wat Ek vir Abraham, vir Isak en vir Jakob belowe het toe Ek gesê het: ‘Ek sal dit vir julle nageslag gee.’
2 “Ek sal ’n engel voor julle stuur en Ek sal die Kanaäniete, die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete wegjaag uit die land.
3 Julle moet gaan na daardie land waar daar baie melk en heuning is. Maar Ek sal nie saam met julle gaan nie, want julle is hardkoppig. Miskien sal Ek julle dan doodmaak voordat julle daar kom.”
4 Toe die Israeliete hoor wat die Here sê, was hulle hartseer en hulle het nie meer hulle juwele gedra nie.
5 Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: ‘Julle is ’n hardkoppige volk. As Ek saam met julle gaan, dan sal Ek julle dadelik doodmaak. Haal af al julle juwele. Ek sal besluit wat Ek met julle sal doen.’ ”
6 Die Israeliete het van toe af nie meer hulle juwele gedra nie. Dit was toe hulle weggegaan het van Sinai-berg.
7 Moses het ’n tent geneem en hy het dit opgeslaan buite die kamp, ver van die kamp. Hy het dit genoem “die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn,” want dit is waar die Here altyd aan hulle verskyn het. Wanneer iemand wou weet wat die Here sê, dan het hy gegaan na die tent waar die Here aan hulle verskyn het, die tent wat buite die kamp was.