16 Daarom moet jy sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek het hulle ver weggevat na die heidene toe en Ek het hulle oral in ander lande laat woon. Toe het Ek self vir hulle ’n bietjie soos ’n tempel geword in elke land waar hulle gekom het.
17 Daarom moet jy vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek het julle na baie lande laat gaan, maar Ek sal julle bymekaarmaak uit daardie volke, Ek sal julle laat bymekaarkom uit al daardie lande. Ek sal weer die land Israel vir julle gee.
18 Dan sal hulle hiernatoe kom en hulle sal al die slegte, lelike goed wat Ek haat, wegvat uit die stad.
19 Ek sal vir hulle ’n ander hart gee, en daar sal ’n nuwe gees in hulle wees. Ek sal die klip-harte uit hulle liggame wegvat en Ek sal vir hulle vleis-harte gee.
20 Dan sal hulle lewe soos Ek sê en hulle sal doen wat Ek wil hê. Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees.
21 Maar die mense wat aanhou om die slegte, lelike dinge te doen wat Ek haat, dit is vir húlle wat Ek sal straf oor wat hulle gedoen het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
22 Die gerubs het hulle vlerke opgetel, en die wiele was langs die gerubs. Die lig wat om die God van Israel is, was bokant die gerubs.