25 Ek is kwaad vir jou en Ek sal kwaad bly. Hulle is ook kwaad vir jou en hulle sal doen met jou wat hulle wil. Hulle sal jou neus en jou ore afsny en hulle sal jou seuns en dogters wegvat. Die mense wat oorbly, sal in die oorlog sterf, en die vyande sal alles verbrand wat nog in die stad is.
26 Hulle sal jou kaal uittrek en hulle sal jou juwele vir hulleself vat.
27 So sal Ek jou laat ophou om slegte dinge te doen, jy sal ophou om ontrou te wees soos jy in Egipte was. Jy sal nie weer kan dink aan daardie tyd nie.”
28 Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ja, Ek sal jou nou gee vir die mense wat jy haat, jy hou nie meer van daardie mense nie.
29-30 Hulle sal jou ook haat en hulle sal alles vat wat jy het. Dan sal hulle jou los, kaal en sonder klere. Hulle sal vir almal wys hoe ontrou jy was en watter slegte dinge jy gedoen het. Dit sal met jou gebeur omdat jy ontrou was. Jy was ontrou, jy het die ander volke gevolg en jy het jouself onrein laat word omdat jy hulle afgode aanbid het.
31 Jy het gelewe soos jou suster, daarom gee Ek nou vir jou die beker van swaarkry wat jou suster moes drink.”
32 Die Here, Hy wat Here is, sê: “Jy sal die beker drink wat jou suster moes drink. Dit is ’n groot beker. Die ander volke sal vir jou lag en hulle sal jou spot, want in die beker is daar baie wat jy moet drink.