13 Ek sal al die diere van Egipte laat verdwyn, die diere by die baie water. ’n Mens se voet of ’n dier se poot sal nie weer die water vuil maak nie.
14 Dan sal Ek die water weer stil laat word, die riviere sal soos strome olyf-olie vloei.
15 Ek sal Egipte ’n land maak waar niemand kan woon nie en Ek sal alles wegvat wat in die land is. Ek sal almal laat sterf wat in die land woon, dan sal hulle weet dat Ek die Here is.
16 Hierdie lied is ’n klaaglied. Die vroue van die volke moet dit sing. Hulle moet ’n klaaglied sing oor die farao en al sy soldate.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
17 Die Here het met my gepraat. Dit was in die twaalfde jaar, op die vyftiende dag van die maand. Ek het gehoor die Here sê vir my:
18 “Mens, jy moet huil en treur, jy moet sing oor die soldate van Egipte wat sal sterf. Jy moet hulle en die vroue van belangrike volke laat gaan na die land daar onder, saam met die mense wat afgaan in die graf.
19 Jy moet vir Egipte sê: ‘Jy is nie beter as die ander lande nie, jy moet afgaan en by die mense daar onder gaan lê, niemand respekteer daardie mense nie.’