17 Die Here het met my gepraat. Dit was in die twaalfde jaar, op die vyftiende dag van die maand. Ek het gehoor die Here sê vir my:
18 “Mens, jy moet huil en treur, jy moet sing oor die soldate van Egipte wat sal sterf. Jy moet hulle en die vroue van belangrike volke laat gaan na die land daar onder, saam met die mense wat afgaan in die graf.
19 Jy moet vir Egipte sê: ‘Jy is nie beter as die ander lande nie, jy moet afgaan en by die mense daar onder gaan lê, niemand respekteer daardie mense nie.’
20 Egipte en al sy soldate sal val tussen die mense wat in oorlog gesterf het. Ek het hulle vir die swaard gegee. Die vyande sal hulle wegsleep.
21 Die belangrike manne wat oorlog gemaak het, sal uit die doderyk praat, hulle sal oor Egipte en oor almal wat vir Egipte gehelp het, sê: ‘Hulle gaan af, hulle gaan lê by die mense wat dood is. Daardie mense het in oorlog gesterf, niemand respekteer hulle nou nie.’
22 “Assirië en al sy soldate is daar. Hulle grafte is rondom hom. Hulle het almal in oorlog gesterf.
23 Die grafte van Assirië is in die verste plekke van die doderyk. Sy mense lê rondom hom in hulle grafte. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle, maar hulle het almal in oorlog gesterf.