15 Ek sal self my skape en bokke se herder wees, en Ek sal hulle laat lê en rus nadat hulle genoeg geëet het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
16 “Ek sal die skape en bokke soek wat weggeraak het. Ek sal die skape en bokke terugbring wat oral rondloop. Ek sal hulle seerplekke toedraai, Ek sal die swak skape en bokke weer sterk laat word, maar Ek sal die vet en die sterk skape en bokke doodmaak. Ek sal reg oordeel wanneer Ek self hulle herder is.”
17 Die Here, Hy wat Here is, sê: “En julle, my eie trop skape en bokke, Ek sal nou die regter wees tussen die verskillende skape en tussen die skaap-ramme en bok-ramme.
18 Julle het op goeie weiveld gewei, maar julle was nie tevrede nie, julle het die weiveld plat getrap wat oorgebly het. Julle het skoon water gedrink en julle het die water vuil gemaak wat oorgebly het.
19 My skape en bokke moes wei op die weiveld wat julle plat getrap het, hulle moes die water drink wat julle vuil gemaak het.”
20 Die Here, Hy wat Here is, sê: “Daarom sal Ek self oordeel tussen die vet skape en bokke en die maer skape en bokke,
21 want die vet skape en bokke het die maer skape en bokke weggestamp met hulle skouers en hulle lywe, hulle het die maer skape en bokke met hulle horings gestoot en weggejaag uit die trop.