6 My skape en bokke het rondgeswerf op al die berge en op elke hoë heuwel. Vyande het hulle gejaag, hulle was oral, en niemand het hulle gesoek of gevra waar hulle is nie.”
7 Daarom, herders, julle moet hoor wat sê die Here.
8 Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal die herders straf. Dit is seker, so seker soos Ek lewe. Vyande het my skape en bokke vir hulleself gevat, wilde diere het my skape en bokke opgevreet, want daar was nie ’n herder nie. My herders het nie my skape en bokke gesoek nie. Die herders het net vir hulleself gesorg, hulle het nie gesorg vir my skape en bokke nie.”
9 Daarom, herders, julle moet hoor wat sê die Here.
10 Die Here, Hy wat Here is, sê: “Nou sal Ek die herders se vyand wees. Ek sal my skape en bokke wegvat van die herders, hulle sal nie meer herders wees en net vir hulleself sorg nie. Ek sal my skape en bokke red sodat die herders hulle nie meer kan op-eet nie.”
11 Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Nou sal Ek self my skape en bokke soek en vir hulle sorg.
12 ’n Herder soek die skape en bokke wat wegraak uit sy trop. So sal Ek my skape en bokke soek en Ek sal hulle red uit al die plekke waarnatoe hulle moes gaan daardie dag toe die donker wolke gekom het.