17 “En jy, mens, die Here, Hy wat Here is, sê vir jou: Jy moet vir die voëls, vir alles wat vlieg, en vir al die wilde diere sê: Julle moet bymekaarkom. Julle moet van al die kante kom en julle moet rondom my fees-ete kom staan. Ek het vir julle die ete gereedgemaak, ’n groot ete op die berge van Israel. Julle moet vleis kom eet en bloed kom drink.
18 Julle sal die vleis van belangrike mense eet en julle sal die bloed drink van mense wat regeer op die aarde. Hulle is almal soos die skaap-ramme en die lammers en die bok-ramme en die bulle wat vet geword het in die land Basan.
19 Julle sal vet eet, meer as genoeg, en julle sal bloed drink totdat julle dronk is by die fees-ete wat Ek vir julle sal gereedmaak.
20 Julle sal meer as genoeg eet by die ete wat Ek gee. Julle sal die perde en die manne van die oorlogkarre eet, ook die soldate en almal wat oorlog gemaak het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
21 “Ek sal vir die volke wys dat Ek die Koning is. Al die volke sal sien dat Ek die vyande gestraf het, hulle sal sien dat Ek my hand op hulle gesit het.
22 En die volk Israel sal weet dat Ek hulle God die Here is, van daardie dag af, vir altyd.
23 Die ander volke sal weet dat die volk Israel gevangenes in ander lande geword het omdat hulle verkeerd gedoen het, omdat hulle ontrou was aan My. Daarom het Ek my gesig weggedraai van hulle en Ek het hulle vir hulle vyande gegee, sodat hulle almal in oorlog gesterf het.