Esegiël 43:10-16 ABA

10 Jy, mens, jy moet vir die volk Israel vertel van my tempel, sodat hulle dit kan meet en skaam kan word oor al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.

11 En wanneer hulle skaam is oor alles wat hulle gedoen het, dan moet jy vir hulle sê hoe die tempel moet lyk. Jy moet vir hulle sê waar alles moet wees, waar mense kan uitgaan en inkom. Jy moet ook vir hulle sê wat hulle moet doen en hoe hulle dit moet doen. Jy moet dit skryf en hulle moet dit sien, sodat hulle die tempel so sal bou en alles sal doen wat Ek wil hê.

12 Die wet oor die tempel is: Die boonste punt van die berg en alles daar rondom moet hoog-gewyd wees. Dit is die belangrikste wet oor die tempel.”

13 “Julle moet die altaar meet, maar die el wat julle hier moet gebruik, is een span langer as die gewone el. Die afleivoor by die altaar moet een el diep en een el breed wees, en die rand van die voor moet een span breed wees. Dan moet julle meet hoe hoog die altaar moet wees.

14 Van die afleivoor onder in die grond tot by die onderste rand van die altaar moet dit twee el wees. Die onderste rand moet een el breër wees as die boonste rand, en van die onderste rand tot by die boonste rand moet dit twee el wees. Die altaar moet vier el hoog wees en die boonste rand moet een el breër wees as die vuurmaakplek.

15 Die vuurmaakplek op die altaar moet vier el hoog wees, en die vier horings moet vas wees aan die boonste hoeke.

16 Die vuurmaakplek moet vierkantig wees, dit moet twaalf el lank en twaalf el breed wees.