2 En daar, van die oostekant, kom toe die lig wat om die Koning, die God van Israel, is. Ek het iets gehoor soos wanneer baie water raas, en die lig van die Here het dit lig laat word op die aarde.
3 Dit het dieselfde gelyk soos dit gelyk het toe ek moes kom sê dat die vyande die stad sal verwoes. Dit het ook so gelyk toe die Here aan my verskyn het by die Kebar-kanaal. Ek het gaan lê met my gesig teen die grond.
4 Die lig wat om die Koning, die Here, is, het na die tempel gekom deur die buitenste oos-poort.
5 Toe het die Gees my opgetel en my gebring na die binneste oop stuk grond, en hier het die lig wat om die Koning, die Here, is, die tempel volgemaak.
6 Ek het gehoor Iemand praat met my uit die tempel. Die man het nog langs my gestaan.
7 Die Persoon het gesê: “Mens, hier is die plek waar Ek op my troon sal sit en die plek waar Ek my voete sal sit. Ek wil altyd hier woon tussen die Israeliete. Die volk Israel, die mense en hulle konings, sal nie weer ontrou wees aan My nie, hulle sal nie my heilige Naam ontwy nie, hulle sal nie weer die lyke van hulle konings hier kom begrawe nie.
8 Die konings het die drumpel en die raam van die deur van hulle paleis teen my tempel gesit. Daar was net ’n muur tussen hulle en My. Hulle het my heilige Naam onrein laat word met die dinge wat hulle gedoen het, dinge wat Ek haat. Ek het kwaad geword en Ek het hulle laat sterf.