21 “Julle moet die Paasfees vier op die veertiende dag van die eerste maand. Julle mag op daardie dag net ongesuurde brood eet. Julle mag sewe dae lank net daardie soort brood eet.
22 Die regeerder moet op die Paasfees ’n bul gee om ’n sonde-offer te wees vir homself en vir die hele volk.
23 Hy moet in die sewe dae van die Fees van die Ongesuurde Brood elke dag sewe gesonde bulle en sewe gesonde skaap-ramme gee om ’n brand-offer te wees vir die Here. Hy moet elke dag ook nog ’n bok-ram gee om ’n sonde-offer te wees.
24 Hy moet ook ’n efa koring of gars offer saam met elke bul en elke skaap-ram, en ’n hin olyf-olie saam met elke efa koring of gars.
25 Die Hutte-fees begin op die vyftiende dag van die sewende maand, dan moet die regeerder elke dag dieselfde offers gee soos op die Fees van die Ongesuurde Brood.”