8 Daarom sê Ek, die Here: Julle moet dit weet, Ek is nou julle vyand, ja, Ek self. Ek wil regter wees in die stad en Ek wil julle oordeel waar die ander volke dit kan sien.
9 Ek wil iets met julle doen wat Ek nog nie voorheen gedoen het nie en wat Ek nie weer sal doen nie. Ek wil dit doen omdat julle so baie slegte dinge gedoen het.
10 Daarom, pa’s sal hulle kinders eet in die stad, en kinders sal hulle pa’s eet. Ek sal die mense in die stad straf wat skuldig is en Ek sal die mense wat dan nog lewe, na al die kante toe jaag.”
11 Die Here, Hy wat Here is, sê: “So seker soos Ek lewe, Ek sal julle minder maak, Ek sal julle nie vergewe nie en Ek sal nie jammer wees vir julle nie, want julle het my tempel onrein gemaak omdat julle daar baie lelike dinge gedoen het, baie slegte dinge.
12 Een derde van julle sal in die stad sterf van pes of van honger, een derde sal rondom die stad sterf in die oorlog, en Ek sal een derde na al die kante toe jaag, Ek sal hulle self met my swaard jaag.
13 Ek sal alles aan hulle doen wat Ek wil doen, Ek sal dit doen omdat Ek kwaad is vir hulle. Hulle sal weet dit is Ek, die Here, wat gepraat het. Ek is baie kwaad en Ek sal hulle straf.
14 Ek sal Jerusalem verwoes, sodat dit net ’n hoop klippe is. Die volke wat rondom die stad woon, sal spot met die stad. Elkeen wat daar verbykom, sal dit hoor.