30 “Ek en die Vader dink en doen dieselfde dinge. Ja, Ons is een.”
31 Die Joodse leiers het niks daarvan gehou nie. Hulle wou Jesus sommer daar en dan met klippe doodgooi.
32 Jesus was egter te vinnig vir hulle. “Wag ’n bietjie,” sê Hy. “Ek het baie mense gehelp en goeie dinge gedoen. My Vader wou hê Ek moes dit doen. Watter een van die dinge wat Ek gedoen het, het julle so kwaad gemaak dat julle My nou met klippe wil doodgooi? Sê My.”
33 Die Jode het nie op hulle laat wag nie. “Moenie woorde in ons mond lê nie! Dit gaan nie daaroor dat jy mense gehelp het nie. Wat ons briesend maak, is dat jy God beledig. Jy, wat ’n gewone mens is, stel jouself sommer as God aan. Waar het jy dít nou al gehoor?”
34 “Sê julle Skrif nie iewers: ‘Ek, God, het gesê: Julle is gode’ nie?” vra Jesus toe.
35 “God self noem die mense ‘gode’ wat na sy boodskap geluister het. En die Bybel jok mos nie.
36 Nou goed, as dit so is, waarom gaan julle so te kere asof Ek God so beledig? Immers, die Vader self het My spesiaal toegerus en My na die mense in die wêreld toe gestuur. Hier het Ek net kom sê: ‘Ek is God se Seun,’ en julle sê sommer Ek beledig God.