1 Jesus het klaar gebid. Van die plek waar hulle saamgeëet het, is Jesus-hulle na ’n tuin toe waar die feesgangers graag gekamp het. Die tuin het aan die ander kant van die Kedronspruit gelê. Die spruit het al langs Jerusalem se stadsmuur af geloop. Jesus het graag saam met sy dissipels na dié tuin toe gegaan.
2 Daarom het Judas, wat teen Jesus gedraai het, geweet waar om Hom te gaan soek.
3 Judas is toe saam met ’n hele klomp gewapende mans na die tuin toe. Behalwe die soldate was daar ook ’n spul polisiemanne wat vir die hoofpriesters en Fariseërs gewerk het. Hulle was goed bewapen. Met fakkels, lanterns en ’n spul wapens het hulle Jesus gaan soek.
4 Jesus was nie verbaas nie. Hy het geweet wat op Hom wag. Toe die klomp soldate by die tuin aankom, stap Jesus na hulle toe. “Vir wie soek julle?” vra Hy.
5 “Jesus wat van Nasaret af kom,” sê hulle.
6 “Wel, dit is Ek,” antwoord Hy. (Judas het ook so ewe tussen die klomp soldate gestaan.) Toe die soldate hoor wat Jesus sê, het hulle verskrik teruggedeins en oor mekaar geval.
7 Jesus herhaal toe sy vraag: “Vir wie soek julle?”“Jesus van Nasaret,” sê hulle weer.
8 “Maar Ek het dan vir julle gesê dis Ek. As julle My wil hê, los hierdie ander dan uit.”
9 So het dit wat Jesus beloof het, waar geword. Hy het mos gesê dat Hy daarvoor sou sorg dat nie een van hulle na wie Hy moes kyk, iets oorkom nie.
10 Simon Petrus het ’n swaard by hom gehad. Hy pluk dit toe uit en kap na een van die mense wat vir die hoëpriester gewerk het. Sy naam was Malgus. Met dié tref hy Malgus teen die regteroor en sny dit morsaf.
11 Jesus keer Petrus toe dadelik. “Nee, Petrus, bêre jou swaard! My Vader wil hê Ek moet hierdie pad loop. Wil jy miskien hê Ek moet ongehoorsaam wees en dit nie loop nie?”
12 Die offisier, met sy soldate en die Joodse polisie, het Jesus gegryp en Hom geboei.
13 Hulle het Hom toe eers na Annas toe gevat. Hy was Kajafas se skoonpa. Kajafas was daardie jaar die hoëpriester.
14 Hy was nie net die belangrikste priester nie, maar ook die voorsitter van die belangrikste Joodse godsdienstige raad. Dit was ook hy wat die Jode oortuig het dat dit beter sou wees dat Jesus doodgemaak word as wat die hele volk by die Romeine in die moeilikheid kom.
15 Simon Petrus en nog een van Jesus se volgelinge het ongemerk op ’n afstand agter Jesus aangeloop. Petrus se vriend het Kajafas geken. Daarom kon hy in die binneplein van Kajafas se huis ingaan, want
16 hulle het Jesus daarheen gevat. Petrus het buite by die deur gestaan en wag. Petrus se vriend kom praat toe met die hekwag en vat Petrus saam in.
17 Die hekwag was ’n vrou. Toe Petrus by haar verbyloop, vra sy skielik: “Jong, is jy nie een van die volgelinge van hierdie gevangene hier binne nie?”“Jy verbeel jou dit,” sê Petrus.
18 In die binneplein het hulle ’n lekker vuur gemaak, want dit was koud. Die werkers en polisie het almal om die vuur gestaan om warm te kry. Petrus het ook tussen hulle gaan staan vir so ’n bietjie hitte.
19 Intussen het die hoëpriester Jesus onder kruisverhoor begin neem. Hy het Hom uitgevra oor sy volgelinge en oor wat Hy gepreek het.
20 Jesus het so op al sy vrae gereageer: “Ek het oral openlik gepraat. Die tempel en bymekaarkomplekke van die Jode was my kansel. Dáár het Ek gepreek. Ek het nie iewers in die geheim opruiende toesprake gehou nie.
21 Moet My nou nie vra om alles te herhaal nie. Gaan vra die mense wat My hoor preek het. Hulle weet wat Ek gesê het.”
22 Toe Jesus dit sê, klap een van die polisiemanne Hom. “Is dit hoe jy met die hoëpriester praat?” bulder hy.
23 “As Ek iets verkeerds gesê het, vertel My tog asseblief wat dit is. Maar as Ek nie iets verkeerds gesê het nie, vir wat klap jy My?” vra Jesus.
24 Annas stuur Jesus toe na Kajafas toe. Jesus was nog geboei.
25 Petrus het hom intussen nog daar by die vuur in die binneplein gestaan en warm maak. “Maar is jy nie een van die volgelinge van Jesus nie?” vra iemand hom.“Nee, nooit!” ontken Petrus dit.
26 “Maar het ons jou dan nie in die tuin saam met Jesus gesien nie?” vra ’n ander een hom. Dinge het nou vir Petrus begin warm word. Die een wat hom dit gevra het, was familie van Malgus wie se oor Petrus afgekap het. Boonop het hy ook nog vir die hoëpriester gewerk.
27 Petrus het weer ’n keer alles ontken. Sy woorde was skaars koud of die haan het gekraai.
28 Van Kajafas se huis af het hulle Jesus na die plek toe gevat waar die Romeinse heerser gewoonlik die gevangenes verhoor het. Dit was in die sterk vesting waar Pilatus gebly het. Dit was nog baie vroeg daardie oggend. Die Jode het egter nie in die binneplein van die vesting ingegaan nie, want hulle paasfees was mos aan die gang. Daarom wou hulle nie dinge doen wat hulle onrein sou maak nie. Dit sou beteken dat hulle nie die paaslam kon eet nie. Dit wou hulle nie waag nie.
29 Pilatus het toe maar uit die vesting na die Jode toe gestap. “Laat ek hoor,” sê hy. “Wat is julle aanklag teen hierdie man?”
30 Die Jode val toe vinnig weg: “As hy nie so ’n klomp slegte dinge aangevang het nie, sou ons mos nie die moeite gedoen het om hom te vang en na u toe te bring nie,” sê hulle.
31 “In daardie geval kan julle hom mos sommer self verhoor. Julle het mos wette wat vir julle sê wat om te doen,” antwoord Pilatus.“Nee, ons kan nie,” kap die Jode terug. “Ons word mos nie toegelaat om iemand tot die dood te veroordeel nie.”
32 So het nog iets waar geword wat Jesus voorspel het. Hy het mos voor die tyd vir hulle vertel op watter manier Hy sou doodgaan.
33 Pilatus het omgedraai en teruggestap na Jesus toe. Hy was nog in die vesting. Daar gekom, roep hy Jesus nader. “Sê my, is jy die koning van die Jode? Is jy die een wat oor die Jode gaan heers?”
34 Jesus antwoord toe: “Vra jy dit omdat ander dit van My gesê het, of is dit omdat jy self so ’n aanvoeling oor My het?”
35 “Lyk ek vir jou na ’n Jood wat sulke aanvoelings sal hê?” reageer Pilatus dadelik. “Jou eie mense en die leiers van die priesters het jou hier voor my gesleep. Wat het jy aangevang?”
36 Jesus antwoord toe: “Ek is ’n koning, maar nie ’n aardse koning nie. As Ek ’n aardse koning was, sou my volgelinge hand en tand baklei het om te keer dat die Jode My vang. Dis miskien wat aardse konings doen, maar Ek is nie so ’n koning nie.”
37 “O so, dan is jy tog ’n koning!” sê Pilatus toe.“As jy so sê,” sê Jesus. “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met ’n doel: om met oortuiging vir mense die waarheid te kom vertel. Ja, daarvoor is Ek gebore. Weet jy wie luister na wat Ek sê? Mense wat hart en siel aan die kant van die waarheid staan.”
38 “Waarvan praat jy? Wat is die waarheid?” vra Pilatus Hom.Na die gesprek is Pilatus toe weer buitetoe. Daar sê hy vir die Jode: “Dit lyk nie vir my of hierdie man iets verkeerds gedoen het nie. Ek wil ’n voorstel maak.
39 Ek laat mos altyd met paasfees vir julle ’n gevangene vry. Wat daarvan as ek vir julle hierdie koning van die Jode laat gaan?”
40 “Nooit!” skree hulle. “Ons soek Barabbas. Laat hom vir ons los!” (Barabbas was ’n Joodse terroris.)