1 In Betanië, so drie kilometer van Jerusalem af, het Lasarus met sy twee susters, Marta en Maria, gebly. Dit was dieselfde
2 Maria wat die duur olie oor Jesus uitgegooi en toe Jesus se voete met haar hare afgedroog het. Jesus het baie van hulle almal gehou.
3-5 Hy het ’n baie spesiale plekkie vir hulle gehad. Lasarus word toe baie siek. Sy susters het Jesus dadelik daarvan laat weet. Toe Jesus die nuus hoor, sê Hy: “Hierdie siekte beteken nie Lasarus se einde nie. Dit beteken wel dat mense sal kan sien hoe sterk God regtig is. En as mense dit sien, sal hulle sommer ook besef hoe belangrik die Seun van God is.”
6 Daarom het Jesus besluit om eers twee dae later Betanië toe te gaan.
7 Na ’n paar dae sê Hy vir sy volgelinge: “Kom, ons gaan na Lasarus-hulle toe.”
8 Sy dissipels het dadelik vasgeskop, want dit was naby Jerusalem. “U kan dit nie doen nie! Het U so gou vergeet dat die Jode U nog ’n paar dae gelede met klippe wou doodgooi? Wat wil U nou weer daar gaan soek?”
9 Jesus maak hulle toe stil. “Daar is twaalf ure lig per dag. En dit moet ’n mens gebruik. Terwyl dit lig is, kan jy sien wat jy doen. Jy sal nie oor goed loop en val of rondstrompel nie. Maar in die nag is dit heeltemal anders.
10 As dit donker is, val jy oor alles. In die donker kan jy mos nie sien wat jy doen nie. Dus: terwyl die kans daar is, moet ’n mens doen wat gedoen moet word.
11 Nou ja, om terug te kom na ons vriend Lasarus toe,” gaan Jesus verder, “hy slaap. Ek moet hom gaan wakker maak.”
12-13 Dit was maar net ’n ander manier om te sê dat Lasarus dood was. Sy dissipels het gedink Jesus bedoel dat Lasarus regtig slaap. “Los vir Lasarus, Here. As hy slaap, kan hy mos self wakker word,” stel hulle voor.
14 Toe praat Jesus sommer reguit met hulle: “Lasarus is nie meer met ons nie, hy’s dood. Maar dit is nie slegte nuus nie.
15 Ek is bly Ek was nie daar toe dit gebeur het nie. En weet julle hoekom? As ons nou gaan, gaan dit vir julle baie beteken. Kom, laat ons loop.”
16 Tomas, vir wie party mense “Tweeling” genoem het, sê toe vir die ander dissipels: “Kom, laat ons maar saam met Hom in die kake van die dood instap.”
17-18 Toe Jesus-hulle in Betanië aankom, hoor Hy dat Lasarus al vier dae tevore begrawe is.
19 Daar was nog ’n klomp mense by Marta en Maria se huis om hulle te troos.
20 Toe die mense vir Marta kom sê dat Jesus op pad is, is sy dadelik uit na Hom toe. Maria het in die huis bly sit.
21 “Here,” begin Marta sommer dadelik toe sy Hom sien. “Waar was U al die tyd? As U betyds hier was, kon U nog my broer gesond gemaak het. Dan het hy nou nog geleef.
22 Tog het ek al die tyd aan een ding bly vashou: ek weet God sal na U luister as U Hom iets vra.”
23 Jesus stel haar toe gerus: “Moenie bekommerd wees nie. Jou broer sal weer lewendig word.”
24 “Ek weet dit,” sê Marta. “Met die finale oordeel sal God ons almal mos weer lewendig maak.”
25 “Dit is nie wat Ek bedoel nie,” sê Jesus. “Ek is die Een wat mense laat opstaan uit die dood en aan hulle die lewe gee wat nooit ophou nie. “As iemand waarlik ’n Christen is, kan hy mos nooit geestelik doodgaan nie. Al sterf sy liggaam, het hy nog die ewige lewe.
26 Wie op My vertrou en die ewige lewe het, gaan nooit regtig dood nie. Aanvaar jy dit wat Ek vir jou sê, Marta?”
27 “Natuurlik, Here,” sê sy dadelik. “Ek twyfel nie een oomblik dat U die Seun van God is nie. U is die Een vir wie God spesiaal aangestel het om die mense te kom red.”
28 Marta is toe daar weg. Sy het stilletjies vir Maria gaan roep. “Die Here wag vir jou. Hy wil graag met jou praat.”
29 Toe Maria dit hoor, spring sy op en loop haastig na Jesus toe.
30 Jesus het buite die dorp vir haar gewag. Dit was op dieselfde plek waar Hy met Marta gepraat het.
31 Die Jode in die huis het nie geweet waarom Maria so vinnig daar weg is nie. Hulle is toe agterna om haar te troos. Hulle het gedink sy voel hartseer en is daarom graf toe om daar te gaan huil.
32 Toe Maria Jesus kry, gryp sy net sy voete vas. “Here,” stamel sy, “as U betyds hier was, sou my broer vandag nog geleef het.”
33 Toe Jesus haar snikke hoor en ook hoor hoe die Jode huil wat saam met haar was, het Hy ’n knop in sy keel gekry. Hy het baie hartseer gevoel.
34 “Waar is hy begrawe?” vra Jesus.“Kom saam, Here, ons gaan wys U,” sê hulle.
35 Jesus kon sy trane nie meer keer nie. Hy het gehuil.
36 “Kyk net! Hy moes Lasarus darem baie liefgehad het!” sê party Jode toe, terwyl ander sê:
37 “Ons wonder darem. Julle weet, Hy het mos ’n blinde laat sien. Kon Hy nie dalk iets gedoen het sodat Lasarus nie doodgegaan het nie?”
38 Jesus was nog steeds baie hartseer toe Hy by die graf kom. Lasarus se lyk was in ’n soort grot begrawe. Die ingang was met ’n groot rots toegemaak.
39 “Vat weg die rots,” sê Jesus. Marta probeer nog keer: “Asseblief, Here! Hy lê al dae daar. ’n Mens kan al die liggaam ruik.”
40 “Marta, Marta!” sê Jesus vir haar. “Vergeet jy so gou? Ek het netnou nog vir jou gesê dat as jy My vertrou, jy sal sien wat God regtig kan doen.”
41 Hulle vat toe die rots weg. Jesus maak sy oë toe en bid: “Vader, dankie dat U altyd luister as Ek iets vra.
42 Hier staan baie mense rond. Ter wille van hulle praat Ek so. Wanneer hulle My hoor bid en sien wat gebeur, sal hulle begin besef dat Ek van U af kom.”
43 Toe roep Jesus hard uit: “Lasarus, kom uit!”
44 Daar verskyn Lasarus toe in die ingang van die graf. Oomblikke tevore was hy nog dood. Nou staan hy daar, lewendig! Hy was van kop tot tone in linnelappe toegedraai. Selfs die lap wat oor sy gesig gesit is, was nog daar.Jesus sê toe: “Haal die lappe van hom af, sodat hy self hier kan wegstap.”
45 Die Jode wat saam met Maria gekom het, het nog daar gestaan. Hulle het alles gesien wat Jesus gedoen het. Baie van hulle het daar en dan sy volgelinge geword.
46 ’n Klompie het egter by die Fariseërs gaan nuus aandra. Hulle het hulle alles vertel wat Jesus gedoen het.
47 Die leiers vra toe dat die Joodse Raad bymekaar moes kom. Die Raad was eintlik die godsdienstige parlement van die Jode. “Wat gaan ons nou doen?” vra hulle raadop. “Kyk net wat vang hierdie man alles aan. Kyk al die wonders!
48 As ons hom toelaat om so aan te gaan, stroom al die mense netnou agter hom aan. En daarvan gaan die Romeine niks hou nie. Hulle sal weer dink dit is die een of ander opstand. Dan gaan hulle kom en alles met die grond gelykmaak - ons en al die ander mense inkluis.”
49 Kajafas kry toe kans om iets te sê. Hy was nie net ’n lid van die Joodse Raad nie, maar ook daardie jaar die voorsitter daarvan. Hy begin toe so: “Van dié soort dinge weet julle net mooi niks. Maar luister, ek het ’n plan. Dink net hoe goed dit vir ons en die volk kan wees om van hierdie man ontslae te raak. Maak hom dood en dan sal die Romeine tevrede wees.
50 So sal die hele volk nie hoef te sterf nie, maar net hierdie een man. Laat hy in plaas van hulle doodgemaak word.”
51 Hoewel hy hierdie woorde gesê het, was dit eintlik nie regtig hy wat gepraat het nie. Onthou, hy was daardie jaar die voorsitter van die Joodse Raad, ja, hoëpriester! Dit was God wat deur hom gepraat het. Hy was eintlik ’n boodskapper van God toe hy gesê het dat Jesus moes sterf sodat die volk kon bly leef.
52 En dit was nie net bedoel vir die klompie Jode wat in Jerusalem gebly het nie. Nee, dit was bedoel vir al God se kinders, waar hulle ook al in hierdie wêreld mag wees. Jesus het gesterf, sodat hulle ook die ewige lewe kan kry en so aan die een gesin van God kan behoort.
53 Sommer op daardie vergadering het die Raad besluit om Jesus dood te maak.
54 Jesus het toe besluit om maar vir eers weg te bly van daardie Jode af. Daarom het Hy koers gekies die droë platteland in. Hy is saam met sy dissipels na die plek met die naam Efraim toe, ’n dorpie aan die rand van die woestyn.
55 Dit was ook weer tyd vir die paasfees. Die mense het van oral uit die platteland na Jerusalem gestroom. Hulle wou betyds daar kom om alles vir die feesvierings reg te kry. Jesus was die groot onderwerp van bespreking.
56 Terwyl die mense in die tempel rondgestaan het, het hulle by mekaar probeer uitvis: “Wat dink julle? Gaan hy sy gesig hier by die fees wys?”
57 Jesus was ook druk onder bespreking by die Fariseërs en die leiers van die priesters. Hulle het die mense gevra om op die uitkyk te wees vir Hom. As iemand Hom gewaar, moes hy hulle dadelik laat weet. Hulle sou dan die polisie stuur om Hom te gaan vang.