16 Jesus se volgelinge het natuurlik nie in daardie stadium besef dat hierdie gejuig en die woorde uit die Skrif ’n baie dieper betekenis gehad het nie. Dit sou hulle eers later insien. Eers toe Jesus sy krag gewys het deur uit die dood op te staan, het hulle weer mooi oor alles gedink. Toe het hulle dit begryp.
17 Die mense wat gesien het hoe Jesus Lasarus lewendig maak, was ook deel van die groot klomp mense rondom Jesus.
18 Hulle het natuurlik alte gretig vir almal van die wonder vertel wat by Lasarus se graf gebeur het. Dit is tog hoekom die ander mense Jesus kom soek het.
19 Vir die Fariseërs was dit egter slegte nuus. Met die hande in die hare het hulle vir mekaar gesê: “Kyk net wat gaan nou hier aan. Dinge ruk handuit. Al wat leef en beef hardloop agter hom aan!”
20 Onder al die Jode was daar ook ’n klompie Grieke in Jerusalem. Hulle het spesiaal vir die fees gekom.
21 Hulle loop toe vir Filippus (die een wat van Betanië in Galilea af kom) raak en vra vir hom: “Meneer, kan ons asseblief ’n bietjie met Jesus praat?”
22 Filippus praat toe met Andreas daaroor en hulle is toe saam na Jesus toe.