6 Maar Judas was ’n groter jakkals as dit. Hy was nie so vreeslik bekommerd oor die armes nie. Nee, hy was ’n regte dief. Hy het mos met Jesus-hulle se geld gewerk en homself goed daaraan gehelp.
7 “Los haar,” sê Jesus toe. “Laat sy dit hou. Sy gaan dit weer nodig kry vir my begrafnis.
8 Julle sal altyd weer ’n kans kry om die armes te help, want daar sal maar altyd arm mense wees. Maar met My is dit anders. Ek sal nie altyd by julle wees nie. As julle dan iets moois vir My wil doen, doen dit terwyl julle nog kan.”
9 Die nuus dat Jesus in Betanië was, het soos ’n veldbrand versprei. Die Jode het dadelik afgesit soontoe. Dit was nie net omdat Jesus daar was nie. Hulle was baie nuuskierig om Lasarus ook te sien. Hulle wou sien hoe lyk iemand wat dood was, maar nou leef.
10 Toe die leiers van die priesters dit hoor, het hulle besluit om Lasarus ook sommer uit die weg te ruim. Hulle het gesien hoe die Jode na Betanië gestroom
11 en Jesus begin volg het.
12 Jerusalem het uit sy nate gebars van al die mense wat fees toe gekom het. Hulle was baie opgewonde toe hulle hoor Jesus kom Jerusalem toe. Natuurlik is hulle dadelik daar weg om Hom langs die pad te ontmoet.