1 Die paasfees was net om die draai. Jesus het besef die tyd het gekom om terug te gaan na sy Vader toe. Dit was nie vir Hom maklik nie. Hy het baie geheg geraak aan sy getroue volgelinge hier op aarde. Hy was baie lief vir hulle.
2 Daardie aand het Jesus saam met sy groepie getrouste volgelinge geëet. Die duiwel het toe al klaar vir Judas oortuig om Jesus in die rug te steek.
3 Dit het Jesus nie bang gemaak nie. Hy het van God af gekom en moes nou teruggaan. Boonop het Hy alles onder beheer gehad. Daarvoor het God gesorg.
4 Jesus staan toe op en bind ’n handdoek om sy middel vas.
5 Hy maak toe ’n bak vol water en begin sy volgelinge se voete een vir een was. Met die handdoek om sy lyf droog Hy hulle voete af.
6 Hy kom toe by Simon Petrus. Voor Hy nog kon begin, val Petrus weg: “Here, wil U nou regtig my voete staan en was?”