Johannes 14:21-28 DB

21 “Julle sal die persoon wat My regtig liefhet duidelik kan uitken. Hy sal weet wat Ek van hom verwag en dit ook doen. As iemand so lojaal teenoor My is, sal my Vader ook lojaal teenoor hom wees. Natuurlik sal Ek self ook lojaal teenoor hom wees en Ek sal vir hom al duideliker wys wie Ek regtig is.”

22 Judas (nie Judas Iskariot nie) vra toe: “Here, hoe is dit dat U vir ons duideliker gaan wys wie U is, maar dat die ongelowiges dit nie eens sal agterkom nie?”

23-24 Jesus antwoord toe: “Wel, Judas, die saak staan so. Daar is twee soorte mense: die mense wat My liefhet, en die mense wat niks met My te doen wil hê nie. Die mense wat My liefhet, neem alles wat Ek sê baie ernstig op; die ander steur hulle nie daaraan nie. God staan 100% agter hulle wat my woorde ernstig opneem, want dit is mos eintlik God self se woorde. Weet julle, my Vader en Ek sal al twee op ’n baie intieme manier deel word van daardie persoon se lewe.

25 Ek sê dit vir julle terwyl Ek nog hier by julle is.

26 Later sal my Vader vir julle julle spesiale Helper, die Heilige Gees, stuur. Hy sal namens My kom en sorg dat julle alles goed sal onthou wat Ek vir julle gesê het.

27 “Julle hoef nie bekommerd te wees nie. Ek los ook vir julle ’n geskenk wanneer Ek weggaan: vrede! Moet dit egter nie verwar met die oppervlakkige vrede van hierdie wêreld nie. Dit is vrede wat iemand net by My kan kry. Daarom hoef julle nie gespanne of selfs bang te voel oor die toekoms nie.

28 Julle weet mos wat Ek beloof het: ‘Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe.’ As julle My liefhet, sal julle eintlik bly wees dat Ek na my Vader toe gaan, want Hy is nog belangriker as Ek.