3 Hulle sal hulle met sulke dinge besig hou omdat hulle nie weet wie Ek is nie en nog minder wie my Vader is.
4 Wees gewaarsku. Moenie julle onkant laat vang wanneer hierdie dinge gebeur nie, want julle weet nou daarvan. Kry julle reg. Ek vertel julle nou eers daarvan, want dit was nie nodig om dit vroeër vir julle te sê nie. Ek was mos die hele tyd by julle.”
5 “Maar Ek is op pad weg, na my Vader toe wat My gestuur het. En sowaar, nie een van julle vra eens: ‘Waarheen gaan U?’ nie.
6 “Dit lyk My julle is te hartseer oor alles wat Ek vir julle gesê het.
7 Moenie hartseer wees nie. Glo My, dit gaan glad nie so sleg wees wanneer Ek weggaan nie. Inteendeel, julle gaan daarby baat vind. Dink net, as Ek nie teruggaan nie, sal die spesiale Helper nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.
8 En wanneer Hy kom, sal Hy sorg dat die wêreld drie dinge waterpas in die oë moet kyk. Dit het te doen met hulle sonde en God se oordeel oor hulle.
9 “In die eerste plek sal hulle nie daarvan kan loskom dat hulle sonde gedoen het nie. Hulle wou mos nie in My glo nie.