2 U het mos vir My volle beheer gegee oor elke mens. Maar U het ook sekere mense spesiaal op my pad gebring. Vir hulle het Ek die lewe gegee wat ewig duur.
3 So moet ’n mens hierdie ewige lewe verstaan. Dit behels dat jy ’n lid word van die familie van die enigste ware God. Jesus Christus, vir wie God gestuur het om mens te wees, is ook lid van dié familie. In die familie van God leer ’n mens God en Jesus baie goed ken, met alles wat dit vir jou beteken.
4 Mense kan sien hoe groot en belangrik U is, Vader, deur te kyk na wat Ek doen. Ek het alles presies gedoen soos U gevra het. Nou is Ek klaar daarmee.
5 Vader, laat My asseblief weer in belangrikheid staan waar Ek hoort, by U. Daardie belangrike plek by U was Myne nog voor die aarde daar was.
6 “Ek het vir die mense duidelik kom uitspel wie U is. Ek praat van die mense wat eintlik nog van altyd af u s’n was. U het hulle nou vir My gegee om na te kyk. Hulle is baie ernstig oor wat U vir hulle wil sê. Hulle besef ook baie goed dat U en Ek in ’n span saamwerk en Ek weet wat U alles vir My gegee het.
7 Toe Ek met hulle praat, het hulle dadelik geweet dat dit u boodskap is wat hulle hoor.
8 Daarom het hulle dit aangegryp. Daar was toe geen twyfel meer by hulle dat Ek van U af kom nie. Hulle weet dat U My na hulle toe gestuur het.”