21 Die leiers van die priesters was baie ontevrede daaroor. Hulle is reguit na Pilatus toe. “Moet asseblief nie skryf ‘koning van die Jode’ nie. Dis nie reg nie. Skryf liewer: ‘Hierdie man het beweer: Ek is die koning van die Jode.’”
22 Pilatus het voet by stuk gehou: “Wat ek geskryf het, is finaal. Dit bly net so.”
23 Die soldate wat Jesus gekruisig het, vat toe Jesus se klere. Hulle pak dit in vier hopies; ’n hopie vir elkeen wat gehelp het. Die kledingstuk wat Jesus gedra het, was uit een stuk materiaal gemaak. Dit was nie stukke lappe wat aanmekaargewerk was nie.
24 Die soldate bespreek toe die saak: “Dit sal darem ’n groot skade wees om hierdie kledingstuk in stukke te skeur. Kan ons nie liewer lootjies trek nie?” So gesê, so gedaan! Sonder dat hulle dit besef het, het hulle maar net gedoen wat die Skrif lankal gesê het hulle sou doen:“Hulle het my klere onder mekaar uitgedeel. Vir my kledingstuk het hulle lootjies getrek.”Dit is presies wat hulle gedoen het.
25 Die soldate was nie die enigste mense by die kruis nie. Jesus se ma en sy tannie Maria (wat met Klopas getroud was) en Maria Magdalena was ook daar.
26 Toe Jesus sy ma daar sien staan saam met sy volgeling vir wie Hy ’n baie spesiale plek gehad het, sê Hy: “Ma, laat hy van nou af jou seun wees.”
27 Hy kyk toe vir sy volgeling: “My vriend, laat sy van nou af jou ma wees.” Van toe af het Maria by hom gaan bly en hy het haar versorg.