28 Jesus was nou tevrede dat Hy alles gedoen het wat Hy moes doen. Hy sê toe: “Ek is dors.” (Die Skrif het mos gesê dat Hy so sou sê.)
29 Naby die kruis het iemand se bottel suur wyn gelê. Die mense vat toe die wyn en gooi daarvan oor ’n spons. Met ’n takkie wat hulle van ’n hisopplant afgebreek het, lig hulle die spons toe tot by Jesus se mond.
30 Jesus het sy lippe en mond daarmee natgemaak. Hy sê toe: “Nou het Ek alles gedoen wat Ek moes doen.” Sy kop het vooroor geval en Hy het sy laaste asem uitgeblaas.
31 Dit het op die Vrydag gebeur. Mense was besig om alles reg te kry vir die paasfees. Dit was vir hulle ’n baie belangrike dag, want daardie jaar het die fees en die sabbat saamgeval.Die Jode se godsdienstige reëls het dit verbied dat Jode op die sabbat nog aan ’n kruis mag hang. Hulle is toe na Pilatus toe en het hom gevra om die mense wat aan die kruis gehang het se bene te breek. Die skok sou help dat hulle gouer doodgaan. Dan kon hulle hulle van die kruis afhaal voor die sabbat begin. Pilatus het gesê hulle kon dit laat doen.
32 Die soldate het toe die bene gebreek van die twee mans wat saam met Jesus daar gehang het.
33 Toe hulle by Jesus kom, sien hulle dat Hy klaar dood was. Dit was toe nie nodig om sy bene te breek nie.
34 Om seker te maak dat Jesus dood was, steek een van die soldate Jesus in sy sy met ’n spies. Daar het bloed en water uit die wond geloop.