33 Toe hulle by Jesus kom, sien hulle dat Hy klaar dood was. Dit was toe nie nodig om sy bene te breek nie.
34 Om seker te maak dat Jesus dood was, steek een van die soldate Jesus in sy sy met ’n spies. Daar het bloed en water uit die wond geloop.
35 Dit is nie sommer stories dié nie. Dit het regtig gebeur. Daardie man het dit met sy eie oë gesien. Hy praat die waarheid en sal nie lieg nie. Julle kan maar glo wat hy vertel.
36 Die Skrif het mos lankal gesê dit sou gebeur. Luister net: “Hulle sal nie ’n enkele been van Hom breek nie,” staan daar op een plek, en op ’n ander plek:
37 “Hulle sal kyk na die Een wat hulle met die spies gesteek het.”
38 Josef wat uit Arimatea gekom het, was ook ’n volgeling van Jesus. Hy het dit egter probeer stilhou, want hy was bang dat die Jode hom iets sou aandoen as hulle dit uitvind. Toe alles verby was, is hy na Pilatus toe. Hy vra Pilatus toe reguit of hy maar Jesus se liggaam kon gaan begrawe. (As niemand die lyke gevat het nie, het die soldate dit gewoonlik sommer eenkant in ’n vlak graf gegooi.) Pilatus het vir Josef gesê hy kon dit maar doen. Hy het toe Jesus se liggaam van die kruis afgehaal en weggevat.
39 Nikodemus het ook bygekom. (Dit was mos hy wat destyds in die nag na Jesus toe gekom het.) Hy het ’n klomp mirre en aalwyn by hom gehad om Jesus se liggaam vir die graf reg te kry. Altesaam het dit so 33 kilogram geweeg.