12 Daarna het Jesus saam met sy ma, broers en volgelinge ’n rukkie in Kapernaum gaan bly.
13 Jesus is toe Jerusalem toe vir die paasfees wat net om die draai was. Die Jode het hierdie fees elke lente gevier. Daar aangekom, is Jesus reguit tempel toe.
14 Op die plein wat aan die tempelgebou grens, was dit die ene bedrywigheid. Die plek was vol handelaars wat beeste, skape en duiwe aan die mense verkoop het om as offers te gebruik. Oral het tafels gestaan waar ’n mens vreemde geld kon omruil vir geld wat vir tempelbelasting gebruik kon word.
15 Jesus maak toe ’n sweep uit toue en jaag die hele spul uit die tempelplein uit, skape en beeste inkluis. Ook die mense wat met die geld gewerk het, het deurgeloop. Jesus het hulle tafels omgegooi en hulle geld die wêreld vol gestrooi.
16 Vir die duiweverkopers het Hy gesê: “Vat hierdie goed weg! Hoe durf julle my Vader se huis in ’n mark verander!”
17 Skielik onthou sy volgelinge wat daar geskrywe staan: “Liefde en ywer vir u huis brand in my soos ’n verterende vuur.”
18 Die Jode kap toe terug: “Wie of wat gee jou die reg om hierdie dinge aan te vang? Kan jy enigiets buitengewoons doen om te bewys dat God jou die reg gee om dit te doen?”