27 Hy sê toe vir Tomas: “Bring jou vinger. Kyk na my hande. Kom, sit jou hand hier op die wond in my sy. Moenie twyfel dat dit regtig Ek is nie. Aanvaar dit!”
28 Oorweldig sê Tomas: “My Here en my God!”
29 Jesus sê vir hom: “Is jy oortuig omdat jy My gesien het? Wel, die mense wat My nie soos jy sal sien nie, maar My tog met oorgawe sal aanvaar, gaan van geluk oorloop.”
30 Nie alles wat Jesus gedoen het, is hier neergeskryf nie. Hy het nog baie ander en verskillende wonderlike dinge gedoen om te wys wie Hy regtig is. Sy volgelinge het dit alles gesien.
31 Dit wat in hierdie boek geskryf is, is met ’n spesifieke doel gedoen. Dit is geskryf sodat julle geen oomblik hoef te twyfel dat Jesus die Redder, ja, die Seun van God is nie. Julle kan dit maar volledig aanvaar. En hierdie woorde wil julle ook oortuig dat julle vir ewig gaan leef omdat Jesus dit vir julle moontlik gaan maak.