1 Daar was nog ’n geleentheid toe Jesus so saam met sy dissipels was. Dit was by die Meer van Tiberias (die ander naam is die See van Galilea).
2 So het dit gebeur: ’n klompie van Jesus se getrouste volgelinge was bymekaar (dit was Simon Petrus, Tomas Tweeling, Natanael - hy het uit Kana in Galilea gekom - Sebedeus se seuns en nog twee ander).
3 Petrus was lus om te gaan visvang. Die ander is toe saam met hom. Hulle is met ’n skuit die meer in. Daardie hele nag lank het hulle iets probeer kry, maar hulle het nie ’n enkele vis gevang nie.
4 Toe die son begin kop uitsteek, staan Jesus daar op die wal. Die dissipels was natuurlik salig onbewus daarvan dat dit Jesus was.
5 “En toe,” roep Jesus, “het julle enigiets gevang?”“Nee wat,” roep hulle terug.
6 “Gooi die net daar regs van die skuit uit. Daar is vis,” kom dit van Jesus se kant af. Hulle maak toe so. Die net was toe so vol vis dat hulle dit nie in die skuit kon kry nie. Dit was te swaar vir hulle.