11 Simon Petrus spring toe gou in en sleep die vrag vis op die land uit. Daar was 153 groot visse in die net. Al was daar so baie vis, het die net verbasend genoeg nie geskeur nie.
12 “Kom, eet ’n stukkie ontbyt,” nooi Jesus hulle uit. Nie een van hulle het die moed gehad om te vra: “Wie is U?” nie. Dit was ook nie nodig om te vra nie. Hulle het geweet dit is die Here.
13 Jesus gee toe vir elkeen van hulle brood en ’n stukkie vis.
14 Dit was die derde keer dat Jesus so aan sy getroue volgelinge verskyn het nadat Hy uit die dood opgestaan het.
15 Na ete vra Jesus vir Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My liewer as wat hierdie ander My het?”“Ja, Here,” kom dit van Petrus. “U weet hoe toegewy en lojaal ek teenoor U is.”“Kyk dan asseblief na my lammers,” vra Jesus toe.
16 ’n Tweede keer vra Jesus: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?”“Ja, Here. U weet mos hoe lief ek U het,” sê Petrus weer.“Pas dan asseblief my skape soos ’n herder op,” vra Jesus.
17 ’n Derde keer vra Jesus hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief? Kan Ek heeltemal op jou lojaliteit staatmaak?”Petrus het hartseer geword omdat Jesus so aanhou. “Here,” sê hy toe, “U hoef nie eens te vra nie, want U weet alles; ook wat in my hart aangaan. U weet mos hoe lief ek vir U is.”“Sorg dan vir my skape,” sê Jesus. “Ek wil vir jou iets belangriks sê.