2 So het dit gebeur: ’n klompie van Jesus se getrouste volgelinge was bymekaar (dit was Simon Petrus, Tomas Tweeling, Natanael - hy het uit Kana in Galilea gekom - Sebedeus se seuns en nog twee ander).
3 Petrus was lus om te gaan visvang. Die ander is toe saam met hom. Hulle is met ’n skuit die meer in. Daardie hele nag lank het hulle iets probeer kry, maar hulle het nie ’n enkele vis gevang nie.
4 Toe die son begin kop uitsteek, staan Jesus daar op die wal. Die dissipels was natuurlik salig onbewus daarvan dat dit Jesus was.
5 “En toe,” roep Jesus, “het julle enigiets gevang?”“Nee wat,” roep hulle terug.
6 “Gooi die net daar regs van die skuit uit. Daar is vis,” kom dit van Jesus se kant af. Hulle maak toe so. Die net was toe so vol vis dat hulle dit nie in die skuit kon kry nie. Dit was te swaar vir hulle.
7 Die volgeling van wie Jesus baie gehou het, sê toe vir Petrus: “Jong, dit is die Here daardie.” Toe Petrus dit hoor, pluk hy gou al sy klere aan. Omdat hulle op die skuit gewerk het, het hy net die nodigste aangehad. Toe spring hy in die meer. Die ander het in die skuit gebly en wal toe gevaar met die vrag vis.
8 Gelukkig was hulle nie so ver van die wal af nie, omtrent 100 tree.