21 As dit wat iemand doen, egter goed en sinvol is soos God dit bedoel het om te wees, hardloop hy juis na die lig toe. Hy het mos niks om weg te steek nie. Almal sal duidelik kan sien uit die dinge wat hy doen, dat hy iemand is wat aan God se kant staan en aan wie se kant God ook is.”
22 Jesus en sy volgelinge is daarna na die platteland van Judea toe en het daar so ’n rukkie uitgespan. Hulle het ook mense gedoop.
23 Johannes was weer in Enon naby Salim besig om te doop, want daar was baie water. Mense het gedurig daar opgedaag om gedoop te word.
24 (Dit was nog voordat Johannes in die tronk gegooi is.)
25 Die volgelinge van Johannes en ’n Jood het juis aan die stry geraak oor hoe ’n mens jou vir God skoon en rein kan maak.
26 Hulle is toe na Johannes self toe. “Meneer,” sê hulle, “jy onthou mos nog daardie Persoon wat daar oorkant die Jordaan by jou was. Ons praat van daardie Een oor wie jy met soveel oortuiging gepraat het. Wel, weet jy wat. Hy het ook nou begin doop, en die ergste is, al die mense stroom na Hom toe.”
27 “Die mens kry nie bloot net iets nie,” begin Johannes toe. “Alles wat hy het, word deur God aan hom gegee.