25 “Wie ís jy presies?” wou hulle toe weet. “Ai, moet Ek alles nou weer sê? Ek sê dit nog die hele tyd vir julle,” antwoord Jesus hulle toe. “As Ek darem vir julle moes sê wat Ek van julle dink, sou Ek julle nogal ’n rukkie kon besig hou.
26 Maar daar is belangriker dinge. Ek praat liewer met julle oor die dinge wat Ek by my Vader gehoor het. Hy het My gestuur om dit te doen. En omdat Ek dit by Hom gehoor het, kan julle dit maar glo, want Hy is absoluut betroubaar.”
27 (Dit het nie tot die Jode deurgedring dat Jesus van die hemelse Vader praat nie.)
28 Jesus het aangegaan: “Wanneer Ek aan die kruis opgelig word, sal julle besef dat Ek werklik is wie Ek sê Ek is. Ek doen nie hierdie dinge uit my eie nie. Ek suig dit ook nie uit my duim nie. Ek sê slegs wat my Vader vir My gesê het. Die Vader laat My ook nie alleen nie.
29 Hy het My gestuur en daarom bly Hy by My. Van my kant af probeer Ek altyd weer my uiterste bes vir Hom.”
30 Hierdie argumente het baie mense oortuig. Hulle het Hom en sy boodskap begin aanvaar.
31 Jesus sê toe vir hierdie Jode wat hulle vertroue in Hom begin stel: “Julle is regtig my volgelinge as julle glo wat Ek sê. Hou vas daaraan en leef daarvolgens. So sal julle ontdek wat vir God belangrik en sinvol is.