44 Die duiwel is julle pa! Al wat julle wil doen, is om na julle pa te luister. Wat hy sê, doen julle. Die duiwel stel net daarin belang om mense se lewe te vernietig en hulle dood te maak. Hy was nog altyd so. Hy gee ook niks om vir die waarheid nie. Al waarin hy belangstel, is om te lieg en te bedrieg. Dit is hoe hy is. As hy sy mond oopmaak, lieg hy. ’n Mens kan niks glo wat hy sê nie. Ja-nee, hy is die oorsaak van al die bedrog en leuens in hierdie wêreld.
45 Maar kyk nou wat gebeur met My. Ek kom praat die waarheid met julle, maar julle sê Ek lieg. Dit wys julle net!
46 Ek daag julle uit! Bewys dat Ek een voet verkeerd gesit het, ja, dat Ek iets gedoen het waarvan God nie sal hou nie. Toe, kan julle? Nou goed, as Ek dan die waarheid praat, waarom wil julle nie aanvaar wat Ek sê nie?
47 Ek kan maar net aan een rede dink: ’n kind van God sal mos graag na God luister. Julle wil nie na My luister nie, wat maar net kan beteken dat julle nie kinders van God is nie.”
48 Daarvan het die Jode niks gehou nie. “Dit bewys net weer hoe reg ons nog altyd oor jou was. Jy is van jou sinne beroof en nog dom ook!”
49 “Ek is allesbehalwe van my sinne beroof,” sê Jesus. “Dit is ’n kwessie van wie vir jou belangrik is. Vir My is my Vader belangrik en Ek steek dit nie weg nie. Maar al wat julle kan doen, is om My te beledig. Dit ontstel My egter nie.
50 Dit is nie Ek wat graag in die kalklig wil staan nie. Dit is God wat wil hê dat mense moet dink Ek is belangrik. En Hy is die Een wat besluit wat reg of verkeerd is.