51 Nou wil Ek regtig vir julle iets belangriks sê: as iemand dit wat Ek sê so ernstig opneem dat dit die enigste manier word waarop hy dink en optree, sal hy nooit, maar nooit, geestelik doodgaan nie.”
52 Die Jode het nie op hulle laat wag nie. “Nou wonder ons nie meer of jy van jou sinne beroof is nie, ons weet dit! Jy raak sommer goed kwyt soos dat die een wat jou woorde ernstig opneem, nooit geestelik sal doodgaan nie. Weet jy dan nie dat Abraham gesterf het nie? En weet jy nie dat God se boodskappers van ouds almal dood is nie? Wil jy nou probeer sê dat hulle nie God se boodskap geken het nie? Wat ’n vermetelheid!
53 Dink jy miskien jy is belangriker as ons vader Abraham of as die boodskappers van God? Hulle het gesterf, maar jy sal kamma nie sterf nie! Wie dink jy nou eintlik is jy?”
54 “Kyk, Ek probeer nie voorgee dat Ek belangriker is as wat Ek regtig is nie. Dit sou niks help nie,” sê Jesus. “Dit is my Vader wat wil hê dat julle moet sien hoe belangrik Ek regtig is. En weet julle wie is my Vader? Dit is niemand anders as die Een wat julle julle God noem nie.
55 Julle herken Hom natuurlik nie in wat Ek sê of doen nie, maar Ek weet dit is Hy. Ek ken Hom en Ek doen wat Hy sê. Ek moet dit vir julle sê. As Ek maak asof dit nie so is nie, is Ek ook net nog ’n leuenaar.
56 Dit het julle vader Abraham baie opgewonde gemaak om hom net voor te stel hoe dit sou wees as Ek kom. Hy het nie daaraan getwyfel dat Ek sou kom nie en hy was bly daaroor.”
57 Die Jode sê toe vir Hom: “Sjoe, dis darem ’n mond vol! Jy sê jy het Abraham gesien, maar jy’s nog nie eens 50 nie.”