19 Toe dit begin donker word, is Jesus-hulle weer uit Jerusalem uit weg.
20 Die volgende môre toe hulle weer by daardie vyeboom verbystap, sien hulle dat die vyeboom wortel en tak dood is.
21 Petrus onthou toe wat Jesus die vorige dag gesê het: “Here, kyk! Die boom waarmee U gister so kwaai gepraat het, is dood.”
22 Jesus sê toe: “Vertrou God vir alles. Luister nou mooi. As julle God regtig vertrou, sal julle dinge kan doen wat dít wat met die vyeboom gebeur het na kinderspeletjies sal laat lyk.
23 Ek praat van groot dinge soos om vir die berg te sê om op te staan en in die see te gaan spring. En as jy nie wonder of dit gaan gebeur nie, maar God totaal vertrou, sal jy dit sowaar met jou eie oë sien gebeur.
24 Daarom sê Ek vir julle: as julle van God iets vra, moet julle ook nie wonder of julle dit gaan kry nie. Julle moet so op God vertrou dat dit vir julle eintlik moet voel of julle dit al klaar gekry het, en God sal dit vir julle gee.
25 “En wanneer julle bid, moet julle eers mooi dink of daar nie iemand is vir wie julle kwaad is of met wie julle vassit nie. Raak eers van al daardie slegte gevoelens ontslae sodat julle niks meer teen daardie persoon hou nie. Dan sal julle Vader in die hemel ook die verkeerde dinge oorsien wat julle doen.”