1 Toe die son sak en die sabbat verby was, het Maria Magdalena, Salome en Maria, Jakobus se ma, olie gaan koop wat lekker ruik om dit op die liggaam van Jesus te gaan gooi.
2 Die volgende oggend vroeg, net toe die son uitkom, is hulle weg graf toe.
3 Hulle het onder mekaar gewonder: “Wie gaan ons help om daardie groot rots voor die ingang van die graf weg te kry?”
4 Daar gekom, kon hulle hulle oë byna nie glo nie. Die groot rots het eenkant weggerol gelê.
5 Hulle gaan toe in die graf in wat soos ’n kamertjie gelyk het. Hulle skrik hulle byna boeglam, want daar aan hulle regterkant sit ’n jongman met spierwit klere aan.
6 “Moenie weghardloop nie,” sê die man. “Ek weet julle is op soek na Jesus van Nasaret. Hy is nie meer hier nie, want Hy het uit die dood lewendig geword.“Kom kyk maar hier waar hulle sy lyk neergesit het.
7 Gaan vertel vir Petrus en sy ander volgelinge: Jesus is voor julle uit Galilea toe. Daar sal julle Hom kry soos Hy vir julle gesê het.”
8 Die vroue draai toe om en hardloop met bewende bene so al wat hulle kan terug, want hulle het groot geskrik. Hulle het hulle monde gehou en met niemand daaroor gepraat nie, want hulle was te bang. (Tog het hulle vir Petrus en die ander kortliks vertel wat vir hulle gesê is. Daarna het Jesus self deur hulle die wonderlike boodskap oor Hom wat altyd waar sal bly, van die ooste tot in die weste laat verkondig. Hiervan kan ons seker wees.)
9 Vroeg daardie Sondagoggend het Jesus weer lewendig geword. Maria Magdalena het Hom eerste gesien. (Dit was sy uit wie Jesus mos sewe demone verjaag het.)
10 Sy is toe daar weg om vir die ander volgelinge van Jesus te gaan vertel. Hulle almal was nog baie hartseer oor alles wat gebeur het en het gehuil.
11 Toe Maria vir hulle vertel dat Jesus leef en dat sy Hom gesien het, wou hulle nie ’n woord glo wat sy sê nie.
12 ’n Rukkie later het nog twee, wat iewers in die platteland op pad was, Jesus op ’n ander manier gesien.
13 Hulle het vir die ander gaan vertel wat gebeur het, maar dié het hulle ook nie geglo nie.
14 ’n Ander keer was Jesus se elf getrouste volgelinge besig om te eet toe Jesus daar tussen hulle staan. Hy het ernstig met hulle daaroor gepraat dat hulle nie wil glo dat Hy lewe nie en dat hulle so hardkoppig is om nie die ander wat Hom lewendig gesien het te wil glo nie.
15 Hy sê vir hulle: “Gaan vertel vir al die mense die goeie nuus oor My. Almal moet dit hoor.
16 “Elkeen wat julle boodskap glo en by julle as Christene aansluit deur gedoop te word, sal gered word. Iemand wat dit nie wil glo nie, kan maar vergeet: God sal hom straf.
17 “Dié wat glo, sal baie wonderlike dinge doen. Ek sal hulle die krag gee om demone uit mense te verjaag. Hulle sal spesiale nuwe tale kan praat en
18 sal slange met hulle kaal hande optel. Gif en sulke dinge sal hulle ook niks kan aandoen nie. Hulle sal net aan siek mense raak en die mense sal dadelik gesond word.”
19 Daarna is die Here Jesus terug hemel toe om by God self op ’n ereplek te sit.
20 Sy volgelinge het die boodskap oral gaan vertel. Die Here self het hulle gehelp en het gewys dat dit waar is deur wonderlike dinge daarna te laat gebeur.