1 So het hulle by die oorkant van die see aangekom. Die Geraseners het in daardie gebied gebly.
2-3 Jesus het skaars uit die skuit geklim of ’n man met ’n demoon peil reg op Hom af. Hy het uit die begraafplaas aangestorm gekom, want dit is waar hy gebly het. Hy was woes en onbeheerbaar en die mense kon hom nie eens meer met kettings vasbind nie.
4 Hulle het probeer om sy hande en voete met kettings te boei, maar dit het niks gehelp nie. Hy het dit uitmekaargeruk.
5 Die bloedstollende gille van die man het dag en nag oor die grafte en tussen die heuwels weerklink terwyl hy homself met skerp klippe stukkend kap.
6 Hy het Jesus van ver af sien aankom en dadelik na Hom toe gehardloop. Hy het op sy knieë voor Jesus neergesak.
7 So hard as wat hy kon, het hy geskree: “Seun van die grote God, wat kom soek U hier? Ek smeek U, moet my nie pynig nie.” Jesus sê toe vir die bose gees:
8 “Gee pad uit hierdie man uit, jou slegte gees.
9 Maar sê eers vir My jou naam.”“My naam is Legio, want ons is baie,” kom die antwoord.
10 Die slegte gees het Jesus gesmeek en gesoebat om hulle nie uit daardie area te verwilder nie.
11 ’n Entjie daarvandaan teen die skuinste was daar ’n trop varke.
12 Die demone smeek Jesus toe: “Asseblief, ons vra mooi, as U ons uit die man jaag, laat ons tog toe om in daardie trop varke te gaan bly.”
13 Skaars het Jesus hulle toegelaat of hulle is uit die man in die varke in. Die varke het heeltemal mal geword. Hulle het verwilderd op loop gegaan, teen die skuinste af, die see in. Daar was omtrent 2 000 en die laaste een van hulle het versuip.
14 Die varkoppassers is toe in ’n stofstreep daar weg om vir almal in die dorp en omgewing te gaan vertel wat gebeur het. Van oral af het die mense gestroom om te kom kyk.
15 Daar aangekom, sien hulle die woeste man rustig by Jesus sit. Hy was netjies aangetrek en het normaal opgetree, soos enigeen van hulle. Dit het hulle bang en onseker gemaak.
16 Die mense wat dit alles gesien het, het natuurlik vir almal in besonderhede vertel wat met die woeste man met die demoon en die varke gebeur het.
17 Die mense uit daardie gebied was egter baie ontevrede en het Jesus gevra om pad te gee.
18 Toe Jesus in die skuit klim, vra die man wat die demoon gehad het Hom baie mooi of hy nie saam met Hom kon gaan nie.
19 Jesus wou nie. “Gaan huis toe waar jou mense vir jou wag. Gaan vertel vir hulle hoe goed die Here vir jou was en wat Hy alles vir jou gedoen het.” Die man het nie gestry nie.
20 Hy is daar weg en het vir die mense in daardie streek (wat die mense Tien Stede genoem het) gaan vertel wat Jesus alles vir hom gedoen het. Die mense se monde het oopgehang van verbasing oor sy verhaal.
21 Na die episode met die Geraseners is Jesus weer met die skuit terug na die oorkant toe. Toe Hy op die strand uitklim, het ’n massa mense om Hom saamgedrom.
22 Onder die mense was Jaïrus. Hy was ’n belangrike man, want hy was die leier van die sinagoge waar die Jode bymekaargekom het. Toe hy Jesus sien, val hy voor Hom neer en gryp sy voete vas.
23 Uit sy hart uit het hy Jesus begin smeek: “My dogtertjie is besig om dood te gaan. Asseblief, kom vat net aan haar en ek weet sy sal bly leef. Asseblief!” Jesus is toe saam met hom.
24 Die mense is agter hulle aan en het rondom Jesus gedruk en gebondel.
25 Onder die mense was daar ’n vrou wat twaalf jaar lank al vreeslik gebloei het.
26 Sy het al baie swaargekry en het al wat ’n dokter was, besoek, maar niks wou help nie. Sy het net al hoe sieker geword.
27 Sy het van Jesus gehoor en toe
28 by haarself geredeneer: “As ek net aan hierdie Man kan raak, weet ek dat ek gesond sal word.” Toe Jesus so tussen die baie mense deurstap, kry sy haar kans.
29 Sy kom van agter af en vat aan Hom. Sy kon aan haar liggaam voel hoe sy beter word en die pyn weggaan. Sy was gesond!
30 Jesus het dadelik geweet dat iemand van sy krag gebruik het om gesond te word. Hy draai toe om en vra: “Wie’t aan My gevat?”
31 Die dissipels was dadelik by: “U sien tog hoe druk en beur die mense hier om U. Hoe kan U nog vra: ‘Wie’t aan My gevat?’”
32 Maar Jesus het Hom nie aan hulle gesteur nie, maar bly rondkyk om te sien wie dit was.
33 Die vrou het besef wat met haar gebeur het. Vrees het haar beetgepak en sy het begin bewe. Sy val toe voor Jesus neer en vertel Hom alles.
34 Jesus sê toe vir haar: “Jou dae van seerkry en swaarkry is verby. Omdat jy My so vertrou het, sal die siekte jou nooit weer pla nie. Gaan lewe voluit sonder die pyn en bekommernis.”
35 Jesus was nog besig om met die vrou te praat toe ’n paar mans van Jaïrus (die leier van die sinagoge) se huis af daar aankom. Hulle het slegte nuus gehad: “Jou dogter is dood. Los vir Jesus. Moet Hom nie verder pla nie.”
36 Jesus het dit gehoor en vir Jaïrus gesê: “Moenie dat dit jou ontstel nie. Vertrou My net.”
37 Jesus, saam met Petrus en die twee broers, Jakobus en Johannes, is toe alleen verder. Jesus wou nie hê dat al die mense moes saamgaan nie.
38 Toe hulle by Jaïrus se huis aankom, was daar ’n groot klomp mense wat vreeslik huil en rou. Hulle het vreeslik te kere gegaan en ’n lawaai gemaak.
39 Jesus gaan toe in en vra vir hulle: “Vir wat gaan julle so te kere? Die kind slaap net. Sy is nie dood nie.”
40 Die mense bars toe uit van die lag asof Jesus nie weet wat Hy sê nie. Hy jaag toe al die mense uit die huis uit, behalwe die ouers en sy drie volgelinge. Saam is hulle na die bed van die dogtertjie toe.
41 Jesus vat die dogtertjie se hand en sê: “Talita koem!” (Dit beteken: “Dogtertjie, Ek sê, staan op.”)
42-43 Die dogtertjie het dadelik opgestaan en tussen hulle rondgestap. Sy was twaalf jaar oud. Jesus vra toe dat iemand vir haar kos moet gee. Die mense wat daar gestaan het, was totaal uit die veld geslaan. Jesus het hulle baie mooi gevra om nie vir enigiemand te vertel wat daar gebeur het nie.