Markus 12:12-18 DB

12 Die Joodse godsdienstige leiers het toe eers planne gemaak om Jesus in die tronk te stop, want hulle het goed geweet dat die verhaal wat Jesus vertel het teen hulle gemik was. Hulle was egter versigtig vir die gewone mense. Daarom het hulle Jesus vir eers gelos en weggegaan.

13 Na ’n rukkie stuur hulle ’n paar mans na Jesus toe. Hulle was van die godsdienstige Jode uit die Fariseërs en van die ondersteuners van Herodes. Hulle moes Jesus probeer uitlok om iets verkeerds te sê wat hulle ’n rede sou gee om Hom te laat vang.

14 Hulle het toe so begin: “Meneer, ons weet jy leer die mense baie dinge oor God. Ons het jou leer ken as iemand wat net die waarheid praat. Jy gee nie om wat hierdie of daardie belangrike mense van jou sê of dink nie, want vir jou is alle mense dieselfde. Jy loop God se pad reguit en leer die mense om dit ook te doen. Sê vir ons, dink jy dit is reg om so baie belasting aan die keiser te betaal? Moet ons hom belasting betaal of nie, want hy is mos ’n koning van ’n vreemde land wat net ons geld wil hê?”

15 Jesus het goed geweet dat hulle ’n klomp tweegesigte was wat Hom wou uitvang. Hy vra hulle toe sommer reguit: “Vir wat probeer julle My uitvang? Bring asseblief vir My ’n geldstuk waarmee ons belasting betaal sodat Ek daarna kan kyk.”

16 Hulle bring toe vir Hom so ’n geldstuk (want daar was in daardie tyd baie verskillende soorte geldstukke en ’n mens kon nie almal vir belasting gebruik nie). Jesus vra toe: “Kyk mooi na die geld; wie se beeld is hierop en wie se naam staan hier geskryf?”“Die keiser s’n,” sê hulle.

17 “Nou ja,” antwoord Jesus, “as die geld met die keiser se beeld daarop die keiser s’n is, gee dit vir hom. Maar onthou, julle is volgens God se beeld gemaak. Julle behoort aan Hom en daarom moet julle seker maak dat julle julleself aan God gee.”Hulle het nie geweet wat om te sê nie, want hulle was verstom oor die slim manier waarop Jesus hierdie moeilike vrae hanteer het.

18 Daar was ’n groep godsdienstige mense onder die Jode wat uit die ryk en belangrike families van Jerusalem gekom het. Hulle het hulleself Sadduseërs genoem. Hulle het gesê as ’n mens dood is, is jy dood. ’n Mens sal met ander woorde nie weer lewendig word nadat jy dood is nie.