22 Daar gaan mense kom wat sal sê dat hulle spesiale boodskappers van God is of dat hulle die redder is wat God gee, maar alles sal net ’n klomp leuens wees. En dit gaan nie net by praatjies bly nie. O nee, glo My, hulle gaan sulke wonderlike dinge doen dat selfs die mense wat God vir Hom gekies het, sal begin wonder of hulle nie dalk die waarheid praat nie. Hulle sal dit oorweeg om die regte pad te los en agter daardie persone aan te gaan - as so iets hoegenaamd denkbaar is.
23 Julle moet asseblief baie daarvoor oppas. Onthou, Ek het julle betyds gewaarsku.
24 “Julle sal al hierdie verskriklike dinge deurmaak: die son sal skielik dowwer word en nie meer mooi skyn nie, en die maan sal glad nie meer opkom nie;
25 die sterre sal uit die hemel val, en die natuurkragte gaan heeltemal deurmekaargekrap word.
26 “Dan sal die groot oomblik aanbreek. Voor die oë van die mense sal die Seun van die mens op die wolke verskyn. Almal sal sy geweldige krag en grootheid sien.
27 Hy sal die mense wat Hy gekies het van elke hoekie van die aarde af bymekaar gaan maak. Daarmee sal sy engele Hom help.
28 “Daar is nog iets anders wat Ek wil hê julle moet weet. Ek gaan dit vir julle verduidelik met die voorbeeld van ’n vyeboom. As ’n vyeboom nuwe, sagte takkies maak en die blaartjies begin uitkom, weet julle dat die somer op pad is. Dieselfde geld vir julle vraag hoe ’n mens kan weet of die einde naby is.