8 Hulle kon egter nie al hierdie lelike gedagtes vir Jesus wegsteek nie, want Hy het geweet wat hulle dink. Hy vra hulle toe: “Waarom is julle so skepties?
9 Wat is die maklikste, om vir die lam man te sê: ‘God vergewe jou sondes’ of ‘Vat jou matras en loop’?
10 Julle weet dat iemand net sonde kan vergewe as hy die mag het om dit te doen. Kyk mooi, die Seun van die mens kan dit hier op aarde doen.” Toe praat Jesus met die lam man:
11 “Luister wat Ek sê. Vat jou matras en gaan huis toe.”
12 Daar gebeur dit toe net so. Die man staan voor almal op en stap huis toe. Die mense was heeltemal uit die veld geslaan. “Ons het nog nooit in ons lewe sulke ongelooflike dinge gesien nie,” het hulle gesê, terwyl hulle vir mekaar vertel hoe groot en wonderlik God is.
13 Toe Jesus weer op ’n dag langs die see gaan stap, het ’n groot groep mense Hom daar gekry. Hy het toe vir hulle van God en sy nuwe wêreld begin vertel.
14 Terwyl hulle nog so loop en praat, sien Hy vir Levi, Alfeus se seun, in die belastingkantoor sit. “Kom saam met My,” sê Jesus vir hom. Hy het opgestaan, sy goed gevat en agter Jesus aangestap.