18 Jesus sê toe: “Sjoe, verstaan julle so min van wat Ek gesê het?
19 Weet julle nie dat die kos wat ’n mens eet in jou maag beland en later weer uitgeskei word nie? Dit raak jou nie regtig hier diep binne-in nie en daarom maak dit nie dat God jou nie wil hê nie. (Dit beteken dat Jesus eintlik ook gesê het dat geen kos ’n mens vir God onrein en so onaanvaarbaar kan maak nie.)
20 Wat egter diep uit ’n mens se hart kom, maak die verskil en kan maak dat God niks daarvan hou nie.
21 Want dit is van binne af, uit wat ’n mens begeer, dat vuil gedagtes groei, soos om ander se goed te vat of jou seksueel sleg te gedra. Laat Ek ’n lysie maak. Ek praat van dinge soos moord, om
22 ontrou te wees in die huwelik, om meer te begeer as wat jy het, om mense kwaad te wil aandoen en allerhande skelmstreke te beplan, om nie om te gee wat jy doen nie, of dit nou reg of verkeerd is, om jaloers te wees op ander mense, om lelik met en van ander te praat, om te veel van jouself te dink en nie jou plek te ken nie en om sommer net ligsinnig te wees.
23 Al hierdie dinge kom uit die binnekant van die mens - dít is dinge waarvan God nie hou nie en dit maak mense voor Hom onrein en onaanvaarbaar.”
24 Van daar af is Jesus na die omgewing van Tirus toe. Hy het stilletjies by ’n huis ingegaan in die hoop dat niemand sou agterkom dit is Hy nie. Maar die plan het nie gewerk nie, want die nuus het vinnig versprei dat Hy daar is.