22 ontrou te wees in die huwelik, om meer te begeer as wat jy het, om mense kwaad te wil aandoen en allerhande skelmstreke te beplan, om nie om te gee wat jy doen nie, of dit nou reg of verkeerd is, om jaloers te wees op ander mense, om lelik met en van ander te praat, om te veel van jouself te dink en nie jou plek te ken nie en om sommer net ligsinnig te wees.
23 Al hierdie dinge kom uit die binnekant van die mens - dít is dinge waarvan God nie hou nie en dit maak mense voor Hom onrein en onaanvaarbaar.”
24 Van daar af is Jesus na die omgewing van Tirus toe. Hy het stilletjies by ’n huis ingegaan in die hoop dat niemand sou agterkom dit is Hy nie. Maar die plan het nie gewerk nie, want die nuus het vinnig versprei dat Hy daar is.
25 Sonder om ’n oomblik te wag het ’n vrou met haar dogtertjie wat deur ’n bose gees gepla is na Hom toe gekom.
26 (Sy was ’n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is.) Sy val toe voor Hom neer en smeek Hom om die bose gees uit haar dogter te verjaag.
27 Jesus antwoord haar toe: “Wag jou beurt af. Dit is mos nie mooi om die geestelike kos uit Israel se mond te vat en dit vir onrein mense te gee wat nie deel van die verbondsvolk van God is nie.”
28 “Ag, dit is waar, Here,” kom die antwoord, “maar onrein mense sal tevrede wees met die stukkies kos van genade wat van die volk van God se tafel afval.”