25 Weer ’n keer vat Jesus aan die man se oë. Hierdie keer kon hy alles sien. Sy oë was heeltemal gesond.
26 Jesus sê toe vir die man: “Gaan nou reguit huis toe en moenie eers in die dorp ’n draai gaan maak nie.”
27 Jesus-hulle is van daar af na die klein dorpies rondom Sesarea-Filippi toe. Terwyl hulle op pad was, vra Jesus sy volgelinge: “Wie sê die mense is Ek?”
28 “Hulle verskil nogal daaroor,” kom die antwoord. “Party sê U is Johannes die Doper en ander Elia. Dan is daar ’n klompie wat dink U is een van die spesiale boodskappers van God.”
29 “Maar julle, wat sê julle van My? Wie is Ek?” vra Jesus hulle toe.Petrus sê toe: “U is Christus, die beloofde Redder.”
30 Jesus vra hulle toe mooi om dit nie vir ander te sê nie.
31 Toe begin Hy met hulle oor Homself praat. Hy vertel hulle dat die Redder, die Seun van die mens, baie swaar gaan kry en dat al die belangrikste leiers van die Jode, of dit op politieke of godsdienstige gebied is, teen Hom gaan draai. Hulle gaan Hom doodmaak, maar na drie dae sal Hy weer lewendig word.