13 Maar luister nou mooi wat Ek vir julle sê: Elia was al hier. Mense het met hom ook gemaak net wat hulle wou, presies soos ons in die Skrif oor hom lees.”
14 Toe Jesus-hulle van die berg af by sy ander volgelinge aankom, sien hulle dat daar ’n hele gedoente aan die gang is, want ’n klomp mense het daar saamgedrom. Die Joodse geleerdes wat die Skrif moes uitlê, was met die volgelinge van Jesus aan die argumenteer.
15 Die mense was verras toe hulle skielik vir Jesus daar sien aankom en hardloop na Hom toe.
16 “Waaroor stry julle so met hulle?” vra Jesus.
17 “Meneer,” sê een van die mense toe, “ek het my seun hiernatoe gebring. ’n Bose gees het hom beetgepak sodat hy nie ’n woord kan uitkry nie.
18 As die bose gees hom pak, slaan hy op die grond neer. Skuim borrel dan by sy mond uit, hy byt vreeslik op sy tande en hy word stokstyf. Ek vra toe u volgelinge om die gees uit my seun te verjaag, maar hulle kon nie.”
19 Jesus sê toe: “Julle glo darem baie swaar. Hoe lank moet Ek nog hier by julle bly voordat julle sal glo? Hoeveel geduld moet Ek nog met julle hê? Bring die seun hier.”