29 Jesus sê toe: “Hierdie soort bose gees kan net uitgedryf word as jy God in gebed daarvoor vra.”
30 Hulle is van daar af weg en is deur Galilea. Jesus wou ’n bietjie privaat saam met sy getrouste volgelinge wees.
31 Hy wou die tyd gebruik om hulle meer te vertel en te leer wat hulle moes weet. Daarom wou Hy nie gehad het dat enigiemand moes weet dat hulle daar is nie. Hy sê toe: “Die Seun van die mens gaan aan mense uitgelewer word. Hulle sal Hom doodmaak, maar na drie dae sal Hy uit die dood opstaan.”
32 Sy volgelinge het nie mooi verstaan waaroor Hy praat nie, maar hulle was te bang om Hom verder uit te vra.
33 Toe hulle in Kapernaum by die huis aankom, vra Jesus hulle: “Waaroor het julle op pad so ernstig met mekaar gesels?”
34 Nie een het iets gesê nie, want hulle het gestry oor wie van hulle die belangrikste was.
35 Jesus gaan sit toe en roep sy twaalf getrouste volgelinge nader. “Die een wat die belangrikste wil wees, moet die minste van almal word. Hy moet bereid wees om ander mense te dien.”