Matteus 21:26-32 DB

26 Sê hulle weer: “Die mense het hom die reg gegee,” sal hulle in die gewone mense se slegte boekies kom. Die gewone mense het almal gedink dat Johannes ’n boodskapper van God was.

27 Om uit die moeilikheid te bly kon hulle maar net sê: “Nee, ons weet nie.”Jesus trek toe sy skouers op en sê: “Maar dan kan Ek ook nie vir julle sê wie My die reg gee om te doen wat Ek doen nie.”

28 Voor die Joodse leiers nog kon padgee, sê Jesus: “Wag so ’n bietjie. Sê My, wat dink julle van hierdie verhaal? “Daar was ’n pa met twee seuns. Hy is eers na die eerste seun toe. ‘Ou seun,’ vra hy, ‘sal jy nie asseblief vandag met die boerdery gaan help nie?’

29 ‘Ek is nie lus nie,’ sê die seun. Sy gewete het hom egter gou begin pla. Hy is tog daar weg om te gaan help.

30 Die pa is intussen na die tweede seun toe. Hy vra hom ook om te gaan help. ‘Goed, Pa, ek sal gaan,’ sê die seun dadelik. Dit was egter net leë woorde, want hy het nooit gegaan nie.

31 Nou vra Ek julle: Watter seun het gedoen wat sy pa gevra het?”“Hoekom vra jy nog? Die eerste een natuurlik.” “Weet julle wat?” sê Jesus toe. “Julle gaan eendag staan en kyk hoe die mense op wie julle so neersien voor julle by God se nuwe wêreld instap. Ja, Ek praat van mense soos prostitute of die tollenaars van wie julle niks hou nie. Julle dink mos julle is beter as hulle! En weet julle hoekom gaan hulle voor julle instap?

32 Johannes het julle die pad kom wys wat God wil hê julle moet loop, maar julle het julle natuurlik nie aan hom gesteur nie. Die prostitute en die tollenaars het egter aan sy lippe gehang en God se pad begin loop. Julle het die neus vir hulle opgetrek, en wat is die gevolg? Julle is nog steeds op die verkeerde pad!”