30 Hierdie dinge is die teken waarvoor julle moet wag. Dan sal die Seun soos ’n weerligstraal kom. Wanneer dit gebeur, sal mense wat hulle nie aan God wou steur nie oral openlik in trane uitbars. Wanneer hulle die wonderlike glans en krag van die Seun sien, gaan hulle hartverskeurend huil en uitskreeu: ‘Wat het ons besiel om nie te luister nie, wat het ons aangevang!’
31 Terselfdertyd sal die Seun se hemelse helpers al God se mense oor die hele wêreld gaan haal en na Hom toe bring.
32 “Julle het gevra wanneer die Seun gaan kom. Luister na hierdie voorbeeld uit die natuur: Hoe weet ’n boer die somer is naby? Hy kyk na die vrugtebome. As hulle begin blaartjies en blommetjies maak, weet hy dat die somer op hande is.
33 Net so moet al hierdie dinge waarvan Ek nou gepraat het, vir julle die blaartjies en blommetjies wees wat sê dat die Seun op pad is.
34 “Luister mooi. Wat Ek hier sê, is vir julle bedoel. In julle leeftyd sal hierdie dinge al begin gebeur. Moenie dink dit is blote praatjies nie.
35 Julle dink die aarde en die hemel staan vas, maar Ek sê vir julle dat my woorde 100 maal vaster staan.
36 “As julle na alles wat Ek gesê het nog nie tevrede is nie, maar die presiese uur, minuut en sekonde van die wederkoms wil weet, moet Ek julle teleurstel. Niemand weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie, nie eens Ek nie. God en net Hy alleen sal daaroor besluit.